By die onlangse kykNET Buiteleweskou by die Mbizi Caravan Lodge het Jurgens Ci die geleentheid benut om die gewig van woonwaens en/of sleepwaens te bepaal. Kampeerders kon by aankoms hulle woonwa/sleepwa vrywilliglik op ‘n skaal laat weeg en dan het Clive Cox en sy span van Jurgens Ci die uitslag van die weegtoets binne enkele minute met die eienaar van die sleepkombinasie bespreek. Die doel was om veilige sleepgewoontes te bevorder.
Ten einde wettig te sleep, verklaar die tersaaklike padverkeerswetgewing dat vir geremde woonwaens/sleepwaens die tarra (ongelaaide gewig) van die sleepvoertuig dieselfde of groter moet wees as die brutovoertuigmassa (GVM – maksimum toelaatbare gelaaide gewig) van die woonwa/sleepwa. Sommige ‘boffins’ meen die woonwa se GVM moet dalk selfs minder as gelyk wees (sê 80%) aan die tarra van die sleepvoertuig. Vir ongeremde woonwaens/sleepwaens moet die tarra van die sleepvoertuig twee keer die GVM van die woonwa/sleepwa wees. Woonwaens en sleepwaens het ook ‘n gespesifiseerde maksimum toelaatbare gewig (wat impliseer dat die woonwa nie oorlaai moet word nie).
Oor die twee dae is ‘n raps meer as 70 woonwaens en sleepwaens getoets. Net meer as 97% van die sleepkombinasies was wettig – m.a.w. die sleepvoertuig het aan wetgewing voldoen. Byna twee-derdes van die Woonwaens was oorlaai – die gespesifiseerde toelaatbare vrag is dus oorskry. Die mees oorlaaide woonwa was ‘n Sprite Sabre met ‘n vrag van 629 kg! Een Cheetahondersteuner se Jurgens Exclusive het meer as 2000 kg geweeg en dus die weegskaal tot op sy maksimum ingedruk. Menige woon- en sleepwa se neusgewig het ook die spesifikasies oorskry. Dit hou implikasies in vir sleepgerief en -veiligheid omdat die woonwa verkeerd gepak is. Kommentaar van kampeerders dui ook sterk op ‘n totale wanopvatting dat enjingrootte die bepalende faktor is om veilig te kan sleep. Baie min was bewus van die wetgewing rondom die tarra van die sleepvoertuig, vervaardigerspesifikasies rondom sleepvoertuie se sleepvermoëns, en die maksimum vrag wat in woonwaens gelaai mag word. Sommige het selfs geskerts dat hulle vrag net vir die naweek is, en as hulle Harties, Buffies of Scotties toe gaan vir die Desember-vakansie, laai hulle nog meer in! Sleepveiligheid raak ons almal.
ENGLISH SUMMARY
At the recent Mbizi kykNET Outdoor Expo, Jurgens Ci took the opportunity to ask all arriving caravan/trailer owners if they would like to have their caravans and trailers weighed. The idea was to inform the participants of the law with regard to towing combinations as well as what their caravans actually weighed after being packed for the weekend. The result? In terms of legal towing combinations according to the relevant legislation, 97.18% of combinations were legal. But two thirds of the caravans were overloaded. The most overloaded was a Sprite Sabre (GVM 1010 kg) that weighed in at 1639 kg. A Jurgens Exclusive exceeded the scale’s maximum of 2000 kg.
WOONWA-PRAATJIES
Neels van Heerden is professor and head of the Department of Marketing, Logistics and Sport Management at the Tshwane University of Technology. He is the master assessor of the AA Quality Assurance Programme for caravan and camping and has been enjoying the camping lifestyle for more than 30 years.
(This edition of Woonwa-praatjies was published in the Dec/Jan 2011/12 issue of Caravan & Outdoor Life)











